Stofwolke en suurwyn

datePosted on 02:19, November 5th, 2009 by Pagoda32

As daar nou een ding is waarvoor Pampoenkloof beroemd / berug was, moes dit wees vir die rede dat dit een van die aller veskriklikste afdraande paaie besit het in die Boland.  Dit was wreed op die gemoed en wreder op enige passasier wat agter op ‘n bakkie moes sit.

Piet het ‘n suksesvolle skaapboerdery bedryf in die vallei.  Natuurlik tot die ontsteltenis van elke plaaswerker wat vir hom gewerk het.  Elkeen van hulle kollegas op die omliggende plase was gelukkig genoeg om vir ‘n wynboer te werk en dit was dus makliker vir hulle om hulle hande op ‘n nat versnappering te kry as wat dit vir hulle was.  Hulle was nie sleg betaal betaal nie, maar moes elke maand wag tot hulle dorp toe geneem kon word sodat hulle ‘n botteltjie of twee Vaaljapie in die hande kon kry.

Die laaste Saterdag in November was ‘n warm een.  Selfs voor 9 uur die more het die kwik al duskant 30 gedraai en Filemon en Alfred was soos blits agter op die 3 ton diesel trokkie.  Baas Piet het sy oggend koffie genuttig, sy hoed gevat en statig afgestap na die trokkie voor die stoor.  Daar was row call gehou - Filemon en sy kollegas het soos sardiens ingeryg gesit agter op daai trokkie.  Die pay pakkies het gebult gesit in elke man se sak en die afwagting was groot - vandag is die dag!  Die koskaste word vol gemaak, die kindertjies word gespoil met nuwe klere en Vaaljapie gaan lekker gesels vandag.

Piet start daai dieseltrokkie dat dit lyk asof die Kaapse mis oor die plaaswerf neersak.  Eerste rat krap in plek en net soos die wiele begin rol sit Filemon ‘n Boxer zol in sy mond.

“Alfred! Het djy diesel in die trok gesit?”, vra Filemon deur die hoek van sy mond.

“Nay!  Djy wiet mos…Baas Piet vra, dan doen ekke…As hy niks vra nie doen ekke niksie!”

En Filemon raak benoud.

Die trokkie maak dit tot in die dorp en teen daardie tyd het elke man agter op die bak al soos kwartels aan die stellasies gehang sodat genoeg wind gevang kan word om van die hitte ontslae te raak.  Piet klim uit die trok en die nattigheid le versprei oor sy rug.

“Een uur manne, dan vat ons die pad!” En Baas Piet raak weg in die kroeg terwyl sy vrou die een kjend aan die hand in die naaste winkel insleep.

Filemon en sy makkers sit soos een af in die rigting van die Offsales.  Die ry is lank - al wat ‘n plaaswerker is in die omgewing, en wat nie vir ‘n wynboer werk nie, staan daar en wag om “geservice” te word.

Kort voor lank stap die manne met groot bruin papiersakke af na die trokkie en gaan sluit hulle Vaaljapie in die kis agter op die bak toe.  Daar is 30 minute oor om klere en kos te koop vir die maand.  En hulle ontplof in tien rigtings vir 30 minute…

Toe Piet daai trokkie opstart hardloop die laaste man of drie met vol hande en arms op daai trok af.  Sakkies word sommer in die hardloop gelaunch tot op die bak, railings word gegryp en vlytig word hulle een vir een tuis gemaak agter op die trokkie.

Toe tref die noodlot die spul. Die trokkie proes proes, gee een laaste sug en steek toe vas soos ‘n steeks donkie by die enigste stopstraat in die dorp.

“Alfred!”, bulder Baas Piet van voor af…en Alfred spring-val van agter af om homself uit die voete te maak.  Hy hardloop vir sy lewe en hy weet dat sy enigste genade nou ‘n kannetjie diesel sal wees. Baas Piet sal dan dalk nie vir hom lewendig wil afskil nie.

Alfred storm af op die joggie by die vulstasie. “Het djulle kannetjies?”, kwyl hy van moegheid.

“Hu-uh…”, laat weet die joggie.  En met daai woorde sien Alfred al die piesangtros pote van Baas Piet om sy keel toemaak. “Djirre my broe.  Ons maak toe nou!”

“Is da enigiets hiesso wat ek diesel in kan vat na ‘n trokkie toe?”

“Waso sta hy?”

“Byrie stop!”

Die joggie gee hom ‘n inkopiesak met diesel in, en diep ingenome met homself begin Alfred afstap na die trokkie.  “Ons worry later oor hoe ons hierrie juice innie trokkie kry.  Ek moet net eers daar kom…”, dink Alfred terwyl hy girts girts oor die gruispad.

Alfred kom by die trokkie en sien Baas Piet se vrou vir hom aangluur oor haar dikraam bril.  En hy weet toe sommer daars kak!

“Waar’s Baas Piet?”

“Hy’t gewai!  Baas Lourens het verbygekom en hom gevat plaas toe om die bakkie te gaan haal!”, deel Filemon hom mee.

Bevrees dat hy nie daardie aand gaan sien nie gaan sit Alfred tussen die ouens agter op die bak en die hitte en bid.  Iets knak skielik hier langes hulle.  Gesant het die proppie van ‘n bottel Vaaljapie geknak.

“Hiesso sit ekke nie tot die wyn warm issie! Hu-uh.  Wie wil he?”

En so word daai bottel aangerand deur tien stuk ouens wat baie dors was.  En die volgende - en so ook die volgende…

Na omtrent ‘n uur daag Baas Piet op met die Isuzu bakkie - die exhaust skoon wit getrap van die plaashuis af.  Met ‘n knor word vroulief en die kjend gebied om in te klim.

“Filemon? Kan jy bestuur?”, vra Baas Piet.

“Ek kan die kar innie pad hou Bossy, maar ekke hettie ‘n liksens nie”.

“Is reg so Filemon.  Ek tou die trokkie en jy hou hom innie pad”

Filemon is in sy noppies!  Dis ‘n groot eer om vir jou baas rond te ry en hy hoop dat Katjie hom vandag agter die stuur vannie trokkie sien - dan’s sy luck in vanaand! Alfred wil nog protesteer deur die sak met diesel plegtig aan Baas Piet te oorhandig toe hy die lee sak etlike meters ver van die trokkie af die ewigheid sien intol in die windjie - leeg!  Nou’s hy bedroef en begin besluit wat hy vir sy vroutjie gaan agterlaat.

Baas Piet maak ‘n dik nylon belt aan die bakkie se towbar vas en Filemon skuif agter die trok se stuur in.  First stop, vulstasie.  Verlate - en Baas Piet swets groot woorde.  En Alfred sien sy kind sonder ‘n pa grootword.

Die lot word statig omgedraai. Plaas toe.  Daar’s diesel daar.

Die bakkie kreun want die trok is swaar.  Verby die stop waar hulle netnou nog gestaan het en links in die pad af.  Baas Piet trap daai bakkie dat hy verlang na sy ma; hy hardloop sommer sideways soos ‘n krap soos hy daai trok sleep.  Hy’s bedonerd!  En almal kan dit ‘n myl ver sien.

Die ouens agter op die trok begin die een na die ander Vaaljapie knak - sommige uit dorsgeid, sommige om die senuwees stil te maak.  Filemon klou aan daai stuurwiel soos ‘n neet en mik net om in die middel van die pad te bly terwyl die reuk van ‘n clutch wat brand van voor af kom.  Daai bakkie sukkel maar Baas Piet is beneuk!

So trek die stoet verby die bordjie wat die aanbreek van Pampoenkloof aankondig.  Die bult is styl, dis warm, die bakkie moan en die ouens agter op die trok is jolly terwyl Filemon sweet van inspanning. Maar Filemon het nooit die sleutel in die ignition gedraai nie…en almal weet mos wat met brieke gebeur as ‘n motor nie aangeskakel is nie!

Die kruin word bereik en Baas Piet besluit om voet van die petrol af te haal.  Al is dit net om die bakkie ‘n blaaskans te gee.  Filemon sien skielik, so met die afdraande, dat bakkie se kind skielik baie nader aan die neus van die trokkie is en spring op die brieke!  Niksmakie!  Hy try weer - en dit voel skoon asof die gebaar maak dat die trokkie nog vinniger hardloop!

Op die laaste besluit Filemon om eerder nie die bakkie se gat te skep van die pad af nie en gooi slingshot regs verby!  Die uitdrukking op Baas Piet se gesig toe hy doubletake en die drie tonner regs van hom sien hardloop was een van afgryse! Hier word dertien stuks vandag gedood!

“FILEMON!!!!!!!!!!”

“JA BAAS”

“Start die FOKKEN TROK!!!!!!!!”

“Nay basie, ek staar eere virrie pad!”

En dis toe dat Baas Piet besef dat ‘n naarstigtelike jaagtog benodig word om langes die trok te bly, anders word die bakkie vandag gatkant eerste deur die trok sonder diesel in die werf ingesleep.

Teen die tyd hang elke besope wetter agter op die trok soos spoke aan die tralies!  Almal witter as lakens geskrik.  Mamma sit langs Baas Piet met haar vingers in die dashboard ingegrou terwyl die kjend ‘n bors in elke hand beet het en sy gesig in mamma se rolle begrawe!  Mamma se voete sit stokstyf voor haar uitgeskop asof sy deur die vloer traai trap op almal tot stilstand te dwing!

Filemon pomp die brieke, maar met elke pomp gooi daai master cylinder vir hom terug op sy seat.

Die laaste drie kilometer van daai afdraande is om van te dood!  Die pad is sleg.  Dis vol gate en onder normale omstandighede probeer jy die slaggate misry…nou probeer jy net in die pad bly en moet maar die knocks vat soos hy kom.  Mamma en die kjend word elke nou aan dan teen die bakkie se dak getimmer terwyl die ouens agter op die trok soos albasters rondgegooi word.  Die ouens was al goed warm, die wyn het in daai son begin gis in die magies en nou met die mallemeule van ‘n rit word die een na die ander kant toe gedwing om die kaktusse teen die kant van die pad in die verbyvlieg te voed.  Daar hang teen daardie tyd so ‘n suur wynreuk teen daai afdraande.

Die bakkie se gat word vir ou laas so paar keer sideways geruk en toe die pad begin gelyk raak voor hulle en die spoed van die trok gebreek word besluit Baas Piet om die voortou te neem.  Met ‘n bestendige hand neem hy toe beheer van die situasie en trek die spulletjie die werf in.

Konsternasie op die plasie…

Toe daai lot tot stilstand kom peul 9 man agter van die trok af in ewe veel rigtings.  Die ouens is sopnat - sommige van wyn, ander van siek raak en ander oor hulle beheer van hulle blase verloor het.  Mamma val sommer uit die bakkie uit en kruip grasperk toe - spierwit geskrik, terwyl die kjend onder die dashboard inkruip en in tale prewel.  Sowat tien minute later het almal reeds verkas.  Die werf is stil soos suikerwater genuttig word.

Die enigste siele op die werf is Baas Piet agter die bakkie se stuur en Filemon agter die trokkie s’n.  Soos een man kyk Baas Piet stadig na regs en Filemon na links.  Beide asvaal geskrik.

Baas Piet knik sy kop.  Filemon probeer iets se maar sy tong sit vasgesweis aan se verhemelte.

Die gekraak van ‘n fietsketting word skielik agter Filemon gehoor en hy steek stadig sy kop regs by die venster uit. Dis Abie van die plaas langes hulle.

“Ekke dink die’s djulle s’n.  Ek het dit oppie pad opgetel netnou en gedink iemand mag dit dalk mis”, en hy oorhandig ‘n halwe bottel vuurwarm vaaljapie aan Filemon.

Baas Piet stap oor, neem die bottel uit sy hand, sluk dit weg in een teug en verdwyn in die rigting van die plaashuis.

categoryPosted in Sommernet | printPrint
Creative Incentive Ewards

Comments:

Toast on November 5th, 2009 at 6:44 am

Spoeg ek nou die screen nat… :)

[Reply]

demoerin on November 5th, 2009 at 7:29 am

Toe ek lees “Ek kan die kar innie pad hou Bossy…” toe weet ek sommer hier kom kak!

Ek het nou so lekker gelag!! :lol:

[Reply]

Amanda on November 5th, 2009 at 9:53 am

Die dag wat ek weer ‘n minuut het om hier in te loer, is die beste dag vir die inloer. Hel, ek het nou kliphard aan die lag gegaan, my kollega en baas het kom kyk of ek nog wel is…

Goeie een hoor, ek het dit nou werklik geniet!

[Reply]

Linda on November 5th, 2009 at 15:52 pm

Dankie Pagoda, ek het lekker gelag.

[Reply]

Dellie on November 5th, 2009 at 17:19 pm

Whaahahahaa! Briljant geskryf! Ek sien daai gekotsery so langs die kante af! :lol:

[Reply]

Alta on November 5th, 2009 at 19:48 pm

:lol: Baie dankie vir die maagspier oefening. Ek het nou lekker gelag.

[Reply]

Raai raai riepa « Dellie se Dinge on November 6th, 2009 at 8:30 am

[...] ja – en hierdie storie by Die Werf MOET julle gaan lees! [...]

koeksister on November 6th, 2009 at 9:46 am

Lmga :lol:

[Reply]

phibbie on November 6th, 2009 at 13:32 pm

Dit is vreeslik funny en ek kon die prentjies sien. Puik

[Reply]

wipneus on November 9th, 2009 at 9:13 am

Hillarious!!!! :lol:

[Reply]

Sigeuner on November 12th, 2009 at 20:41 pm

Dit is `n goeie storie, mette lekkerlees skryfstyl, Pagoda. Mens kan regtig hoor en sien hoe dit gebeur.
Dit maak mens lag!

[Reply]

Post a Comment

Name:
Email:
Website:
Comment: