Alzheimer
Jy sit en staar aaneen na jou hande
die blou-aar vel net dun getrekte wande
jy praat nie… ek staar maar saam
die tyd staan stil, maar gaan tog aan
vir my wat alles nog onthou en voel
so skuldig, woede ingehou.
Al wat ek vra, is genade…
Elke liewe keer as ek hier was
en die onthou in my keel kom lê
sluk en sluk ek aan al die bitter en
vergeet ék ook wat ek vir jou wou sê
soos - dat tyd weer alles heelmaak
asof dit aan jou sou saakmaak.
Al wat ek vra, is genade…
Die kere as jy aandagtig na my luister
asof jy verstaan wat ek vertel
wat alles in die wêreld, buite joune hel
die verbasing op jou gesig as jy eien
en begryp en `n breekdeel weer herken
jy my, is dit my oë of is dit my stem?
Al wat ek vra, is genade…
Die rimpels oral oor jou lyf
wat lyk soos sout verlos oor wange
opgelos oor sout-gedroogde trane.
Hemel, alleen! Hoeveel tyd het ons,
saam geëet daaraan, saam gebid
en huil tot hierdie uitgedroogde rit?
Al wat ek vra, is genade…
Tot ek weer eendag sien en glo
dat jy my tog verstaan en bo alles
weet hoe lief ek jou nog altyd het
jou krom rug teen die koue bed,
hande in komberse terug gedruk
met oë wat saggies, vol verwondering
op my gestalte en geheue kom lê.
Genade so onbeskryflik groot.
Sing vir my ‘n liedjie – Sigeuner
Jy weet ek soek jou al lank met `n seer hart
ek sal nooit ophou glo nie, maar die tyd vat so lank
mens word al ouer, maar die gevoel wat bly staan
word van hoop verander en liefde word blaam.
Waarom in die eerste plek moet ek so oor jou voel?
dis al jare en jare en wat is die doel
van siele en harte wat later versteen
waar lê jou hart, waar gaan dit heen?
Ek wens jou hande raak net eenkeer
saggies teen my wang,
en vat al die verlange en mal gedagtes met jou saam…
dis so true soos `n pennie en geld wat kan koop
maar die liefde is duur, al wat oorbly is hoop!
EK soek net `n liedjie
en wyn wat sal pas
vir die hartseer in die woorde
en iets wat sal heelmaak
van iets wat nooit was.
Jy weet ek wil nie altyd en vir ewig
by jou wees nie, maar my gedagtes sê so…
maak nie saak hoeveel water in die see stroom
en of die branders nog breek oor my hartseerste droom.
Ek weet dat liefde gespel word soos jou naam
die letters en klanke hoort net so saam
ek fluister dit saggies…oor en oor
sal jy my eendag verstaan, kan jy dit hoor?
ek wens net dat jou asem oral oor my kan spoel
ek wil jou net liefhe, dis al wat ek hiermee bedoel
wat is dan fout met dit wat ek voel?
Dis al waaroor ek droom en ek wag
vir jare en jare, dag vir dag
die tyd maak my droewig en somtyds ook mal
kom vang my hart in jou hande voordat dit val
en sing vir my sterre wat altyd sal skyn
en liefde wat waar word sonder die pyn.
EK soek net `n liedjie
en wyn wat sal pas
vir die hartseer in die woorde
en iets wat sal heelmaak
van iets wat nooit was.
En nog twee
Te lig gevind
Jy dink net in jou two-way mind
op jou ysterperd se rug
soos `n Libra op `n weegskaal
wat alles weeg en lig bevind.
Jy glo nie ander woorde nie
net jou eie wysie wat jy tune
nes `n koukie met `n nagtegaal
is die klanke wat my ore haal.
Jou motorfiets in `n doodloop-straat
weet jy nie van omdraai nie
sien jy net die goed en kwaad
en nie die ander kleure raak.
Tussen wit en swart moet ek jou sê
daar is mense wat ook grys wil hê
en as jy vra vir jou vertel
die lewe is soos jy dit spel.
Jy kan aanry in jou one-way road
mis dan al die soet en stout
as jy nie die spel kan speel
en alles sien in sy geheel .
Is jy binne-in jou two-way mind
en die lewe keer sy rug
op die Libra in die weegskaal
wat die swartgal uit die lewe haal.
Boland Kavaliere
Vat daai bal met `n ysterhand
druk `n drie daar oor die kant
dis maklik om `n bal te stuur
jy is die beste Kavalier.
Vat die ou in `n vaste greep
tackle almal op `n streep
dis lekker om die bal te stuur
jy bly ons almal se Kavalier.
Skop die bal oor die wydste paal
dan kan jy baie punte haal
dis loud as jy die bal oorstuur
jy is die beste Kavalier.
Ons sal skreeu vir `n kavalier
tot ons stem hees en seer is hier
stuur die balle oor die streep
dis al wat ons wil sien en weet.
Kavaliere op die Boland rug
bring die klop van speel weer terug
want dis lekker om die Boland lief te hê!
Twee nuwes van Sigeuner!
Erg geswael
As ek moet kies met ys
of heeltemal daarsonder bly
as ek moet kies `n brandewyn
of iets heeltemal verfyn.
Dan kies ek soms die een
gegooi oor goed ge-ysde reën
blinkend in `n bol-glas
totdat ek voel ek rondtas.
`n Ander een by kamer temperatuur
proe-proe aan die swaar tekstuur
volmaaktheid het so lank geduur
van tros tot glas gestuur.
As ek my tyd nou moét verwyl
tussen `n stamper en `n styl
en ek klassifikasies moet oorbrug
kies ek uit beginselsaak, die vrug!
Die geheim
Jy dink ek weet nie
en glo ek kyk nie
en wens ek vind
dit glad nie uit nie.
Tye wat jy lieg
jy amper vir my bieg
verhale heerlik opgedis
jy`s die een wat jou misgis!
Hoeveel hande oor
jou soepel vel
hoeveel in jou liefdes-koor
en hoeveel in die hel?
`n Nocturne in Lido
afgewaterde libido
maak emosies rou en teer
wie se gevoellens is nou seer?
Nou weet ek
jy`s die gek
dis die geheim
dis net jou pyn.
Ek weet al nagte
geadder aan my boesem
en hart bedank jou
ook uit my siel uit.
Die geheim, ek lag
al my water op jou af
oor die liefde, watter liefde?
afgewater, ja – dis die geheim…
___________________________________
Maddie – kort kort kort verhaal deur Gert
Maddie sit vir die hoeveelste keer in die donker met ‘n handdoek teen die kop. Sy wonder onwillekeurig hoe hy dit reg kry om elke keer presies dieselfde plek raak te slaan.
“Man, hy’s geoefen”, sê die stem binne haar.
“Stront man. Dis oor hy sulke groot hande het en hy ken nie van mis slaan nie”, stry sy met haarself.
‘n Fyn glimlag bars deur die strak gesig. Maar dis nie oor sy die insident humoristies vind nie, eerder oor sy soos ‘n mal mens met haarself sit en praat.
Sy besluit om die lamp aan te skakel sodat sy nie in haar bedwelmde toestand haarself verder aanrand met ‘n deurkosyn nie. Hy gaan nou kom vra waar sy draai en sy wil ten alle koste verdere drama verhoed.
Die lampie gooi sy lig skuins teen die muur en sy trek die handdoek, gevul met wat omtrent ‘n uur terug ys was, stadig van haar dooie gesig weg. Die skarlakenrooi lê nou bleek oor die materiaal. Ys smelt en daarmee saam smelt die donkerte van die daad. Die trane wel weereens op in haar oë en sy kry dit net net reg om die hartseer terug te sluk.
Op 14 Junie 1998 is Maddie getroud met Andries. Die oudste seun van die Trichardts op Malmesbury was ‘n aantreklike kerel. Sterk gebou met breë skouers en selfs ‘n breër glimlag. Toe sy daardie oggend vir hom sien staan het in die ko-operasie in sy chino en kortmouhemp het sy geweet daar kom perde. Die vlinders wou nie laat los nie en sy en Andries het vir ongeveer twee jaar lank mekaar sat gekuier.
Ongelukkig vir haar het die kleure van haar ridder op die wit perd verander. “Vandag is die doner niks meer as ‘n doos op ‘n donkie nie”, dink sy.
Maddie soek met dom vingers na die ganglig se skakelaar. Om die skakelaar vir die badkamer te kry is ‘n byna onbegonne taak sonder dat die ganglig aangeskakel is; dis allermins net hulle derde week in die nuwe huis. Die koue teels blink helder onder haar voete en dit voel klewerig terwyl sy voetjie vir voetjie voortbeur na die badkamer. Die bloed op die teels het al begin stol. “Ag, warm water sal dit afkry. En ek sal dit moet doen voor ek gaan slaap of Mavis vra weer dom vrae moreoggend.”
Die figuur in die spieël is bykans onherkenbaar. Sy weet sy sien haarself, maar skaars tien minute van tevore het sy aan haarself as ‘n vrou van tien jaar jonger gedink. En die mens hier voor haar lyk allermins wyser…net…ouer. Die wereld voel asof sy in ‘n waas beweeg en sy lig haar hand om die bloederige lokke eenkant te trek.
“Ai. Dit lyk erg”. Sy draai die warmwaterkraan oop en laat lê die waslap daar vir ‘n ruk totdat die damp die hele spieël gevul het. Sy draai die kraan toe en verwelkom die vuurwarm lap in haar hande. Sy besef sy leef nog.
Stadig vou sy hom oop en waai hom so bietjie rond om van die ergste hitte ontslae te raak. “Byt op jou tanne meisiekind!”
Maddie voel of sy kan skree, maar sy weet sy kan nie vanaand die duur beddegoed met bloed bevlek nie. Die gemors moet af.
Sowat ‘n halfuur later kom sy pynlik stadig uit die badkamer beweeg. Haar gesig is nou skoon, maar dit is nou verskriklik seer. Haar regterwang en slaap voel geswel en sy wonder hoe sy dit gaan regkry om vanaand op haar linkerkant aan die slaap te raak. Nie net is haar ribbes aan die linkerkant baie seer nie, maar dis ook die kant wat gaan maak dat sy in Sy gesig moet vaskyk.
Dis koud. Die adrenalien is uitgewerk en haar hele lyk voel styf gespan soos ‘n snaar. Sy begin verskriklik ruk van skok en sy besef sy kort iets soet en warm in haar hande. Amper paniekbevange sit sy met mening af na die kombuis sodat sy die ketel kan aanskakel. Verby die kamer…en sy hoor sy gesnork.
“Die vermetelheid. Bliksem my des moers en gaan kruip in en slaap asof niks makeer nie”
“Maar dis mos sy ou laai daai”, stry sy weer met haarself.
“Stop dit! Ruk jou reg!”
Nog ‘n maal verskyn ‘n amper glimlag op haar gesig. “Dis waaragtig nie die eerste keer nie, Maddie. Jy moet mos van beter weet teen die tyd!”
Dis elfuur en die soveelste warm koppie soet koffie is in haar hande. Sy wens daar was iets wat haar nou nog kan besig hou want sy voel nie moeg nie. Net afgerem. Maar nie moeg nie. Die slaap kan for better or worse maar weg bly vanaand. Dis beter so. “Ek sal more slaap”
Terug kombuis toe. Nog ‘n koppie koffie. Solank daar ‘n warm koppie in die hand is het sy ‘n rede om nie kamer toe te gaan nie. “Ek moet nog gaan stort. My lyf voel taai”…
Maddie skakel die kombuislig vir die soveelste keer aan en sien weereens die rede ir haar pak slae vanaand. Toebroodjies. ‘n Donerse hoender mayo toebroodjie het haar vanaand ‘n sny so lank soos ‘n lipstiffiebuisie teen die kop gegee. “Maar Andries werk hard deur die dag, Maddie. Hoe kan jy nou vir hom toebroodjies wil gee vir aandete?”
Sy maak die laai van die kombuiskassie oop vir die soveelste teelepel. “Ginsu…dis die naam! My ma vra gereeld wat die naam van daai messe was wat op tv………”…en sy raak stil. ‘n Ewigheid gaan verby. Sy hoor ver weg honde blaf. ‘n Verlate motor wat soek na sy eie huis…
“Wat is daardie nommer nou weer?”, vra sy haarself terwyl sy na die koordlose telefoon soek.
“10111, what is your emergency?”
‘Kom haal my seblief. Ek het nou net my man met ‘n mes vermoor”
——————————-
Pagoda se dig -
Seun
Sy hande gryp verwoed
Nie oor hy wil nie maar oor hy moet
Die arms is te fyn en kort
Maar definitief glad nie oor daar iets skort
Sy oë sprankel blou in die dowwe lig
En diep uit my binneste gee ek ‘n sug
Nie een uit kwaad of misverstand
Eerder een uit liefde, daarom die dig
Die klein sagte wurm is heeltemal nat
Gereeld in die mond, dis net spoeg wat spat
Die giggel en lag kom diep uit die maag
En die kyk in die oë laat my met een vraag?
Is jy soos ek of jou ma?
As kind het ek myself redelik gedra
Jou ma was volgens ouma ‘n grote pyn
Selfs is jy sal ek dit maklik verdra
Met ‘n wil van jou eie trek jy aan my duim
Regop staan so vroeg, dit wil jy nie versuim
Wankelende voete en knikkende kop
Lag uit die maag as die bewerasies stop!
Jy is nie die punt van hart
Jy is my hart
Jy is my siel
Jy is Jacques
——————————-
Talita Myburgh het hierdie persoonlike ene deurgestuur:
Wroeging
Ek onthou ‘n tyd in my lewe
toe ek nog na emosie gestrewe het,
so tussen die boom en die bas
was ek toegedraai met niks te tas.
Geen regte seerkry het my geknie
en van ware geluk weet ek ook nie.
‘n Lewe van Bourgoise
in die middel, soek ons emosie.Of so het ek gedink;
op my mondigwording is my bitter glas geskink
en depressie, die tasbaarheid van die dood
het my omvou en laat sink soos lood.
Geveg het ek, tot bo,
asem gedrink in ekstase wat min sal glo.
Maar die oorlog is allermins verby,
die lood se ketting bly nog
doodse gal swart dreig vir my.
___________________________________
Pagoda32 se rym:
Stadskind
In wit gebleikte hoed en
Roet gekleurde hand
Weet die man hy moet
Of tyd maak hom van kant
Mense stap verby in tyd
Met die tik tik tik van stadsgewoel
Almal sien neer sonder spyt
Op die man…meeste sonder gevoel
Dis steeds nag as hy sy oë oopmaak
Klere regtrek, betrek met gaat
Gesig moet was in fontein, bitter koud
Lyne oor sy gesig, hy voel oud…
Gevloek geskel en harde hand
Is weereens vandag sy voorland
En dit alles gebeur met een rede voor oog
Hy’s honger en siek en voel skurf soos sand
Dis maklik vir ons om die kop te draai
Want met die man “is ons plek nie fraai”
Hy’s lui en dronk, dis wat ons dink
En niemand dink aan die plek waar hy homself bevind
Hy’s alleen.
Hy’s honger.
Van die mensdom vervreem.
Hy’s van die lewe ontneem
Familie wil hom nooit nie ken
Hulle weet hy’t die lewe nie gewen
Uitgemaakte saak sy lot
Op een of ander sypad sal hy vandag moet “vrot”
Eendag loop ons die parkie binne
En sal ons daar iets te vinde vind
Opgekrul teen ‘n boom so hoog
Styf getrek soos pyl en boog
Asem is weg
Hy’t verloor die geveg
Jy soek eenvoudige vertroosting in die feit
Hy’s weg, maar dalk in ‘n beter plek
______________________________
Brein se Rym
Die afsterwe van SSSB.
Jammer om te hoor,
so jammer om te hoor,
Steve se spoegblok is gekwes,
Na sy siekbed in Pretoria Wes.Na konsiderering gee hy nou bes,
En op Die Werf trek ons nou wes,
Teen die lamppale lees ons die verhale,
Van die kunstenaar se swanesang verbale.Op Steve se spoeg blok was ons soos familie,
Ander jaloerse vuurspuwende bloggers,
Was weer `n nare klomp boggers,
Maar op Die Werf is ons weer `n hegte familie.Soos `n beer het Steve se spoegblok hiberneer,
Maar hier op die werf kyk niemand op ons neer,
Pagoda federasie is goeie inspirasie,
Vir Die Werf se nuwe bevryde nasie.Skrop en kekkel saam met Phibbie as jy wil,
Maar solank jy skrop , want jy wil,
Hier is ons bloggers homogeen,
En niemand suig aan die agterspeen.Jammer om te hoor ,So jammer om te hoor,
Steve se spoegblok het in die kuberruim versmoor,
Steve se spoegblok se DOOD,
Is Die Werf se BROOD.
Hier’s ons eerste een van Christa (Koekie)…en sy sê die volgende:
“Hiermee my bydrae tot die gedigte blad. Ek het hierdie gediggie geskryf vir my seuntjie (nou 11). Ek is nou nie eintlik ‘n digter nie maar het op daai spesifieke dag na hom gekyk en moes net ietsie vir hom skryf. Hy geniet dit vreeslik as hy dit lees en ek kan sien hy is erg trots dat sy ma spesiaal net vir hom ‘n gedig geskryf het. Dis nou nie een van daai “diep” gedigte nie maar dit is spesiaal vir my en vir hom.”
My blou-oog liefie
Op 19 Mei het jy jou verskyning gemaak.
My swartkop seuntjie was heeltemal volmaak.
Tien vingers en tone het Pappa getel,
terwyl hy opgewonde die familie bel.
Jy het soos ‘n engeltjie gelyk,
en ons het dadelik besluit na wie jy gaan lyk.
“hy is sy pa uitgeknip” het Ouma gesê,
terwyl jy, salig onbewus, in jou bedtjie lê.
Jou TROTSE pa se bors het geswel,
terwyl hy vir almal van sy bulletjie vertel.
“Met daai fris kuite”, is almal meegedeel,
gaan hy verseker eendag rugby speel!
‘n Naam moes jy kry, en almal het gedink….
..Tiaan, Ryno, Werner, maar nie een het reg geklink.
“Vernoem hom na sy pa”, het almal beaam,
en uiteindelik is Rynhardt, Tjaart gekies as ‘n gepaste naam.
Tyd het vinnig verby gegaan
maar ek wens tyd kon stil staan.
4 maande oud is jy vandag,
En my hart klop warm wanneer jy uitbundig lag.
Vol bewondering sit ek en kyk,
hoe jou soekende handjies na alles wil gryp.
Skielik glimlag jy van oor tot oor,
jy het uiteindelik jou dummy opgespoor.
Ek kan myself nie indink sonder jou in my lewe.
Jy verskaf ons soveel plesier, en ek weet daar’s nog vele.
Mooier as jou engel-gesiggie kry mens nie,
Pa se bulletjie en Mamma se liefie.
Liefde
Mamma
_______________________________










Jissie maar jys darem oulik. Ek sou maklik met jou kon trou as jy nettie so oud en grys was nie. Hiehiehieheiheiheie
Jy kan daai een skuif hierheen Pagoda. Mense kan mos hierheen kom om dit te lees of hoe
Nee wat…dis ‘n nice post…hy kan bly net waar hy is!
Nope is reg met my baas.