Julle het my droom gesteel
Grafika: salomé Nourse
Min onderwerpe krap mense so baie om as emigrasie.
Die voordele, die nadele. Die verlange, die nuwe identiteit.
Die haat, die liefde.
Die verwyt, die droom.
Oor ’n tydperk van tien jaar sedert ek geëmigreer het, het ek met honderde emigrante gesels om agter te kom wat in hul kop aangaan.
Ek het verby die gewone stories van geweld probeer kom na die dieperliggende psigologiese motivering.
Die gaping tussen wat wit mense verwag het gaan gebeur in die nuwe Suid-Afrika en wat gebeur het, was en bly net eenvoudig te groot.
In stede van oorgaan tot ’n revolusie, het hulle “gerebelleer” deur pad te gee. Wit mense het verwag dat Suid-Afrika anders as Afrika sal wees.
Dit sal beter wees. Wit en swart sal regtig saam ’n plek in die son geniet.
Maar dit is nie. En nou is hulle kwaad. Seer. Teleurgesteld. Moedeloos. Gatvol. En hul “revolusie” is om te trek, want dit help nie hulle baklei nie.
Dit het niks te doen met rassisme of bitterheid nie. Dit het te doen met onvervulde, subjektiewe verwagtinge.
Terwyl die Grondwet ’n wêreldklas-dokument is, is die wyse waarop dit bestuur word telkens ’n wêreldklas-gemors.
Wit mense het binne ’n dekade bywoners in hul land van geboorte geword. Nou word hulle eerder bywoners in ander lande wat aan hulle meer kanse en aanvaarding bied.
Stootkrag sterker as trekkrag
Die stootkrag waarom mense van Suid-Afrika weggaan, is sterker as die trekkrag na die land van hul keuse.
Wit mense verlaat dus Suid-Afrika telkens met seer. Met ’n wrok.
Selfs met haat. En dit vat sommige lank om daaroor te kom.
Dit maak ons anders as ander emigrante.
Ek ontmoet honderde Britte, Italianers en Kiwi’s wat geëmigreer het, want hulle wou, nie omdat hulle moes nie.
Ek het in my dekade in Australië nog nie een wit mens teëgekom wat hier wou wees uit eie wil nie.
Hulle sou almal eerder in Pretoria en Kaapstad en Lichtenburg wou bly, Sondag kerk toe gaan, Loftus toe en ’n verskil maak aan hul gemeenskap.
Maar hulle voel uitgeskop. Hul kundigheid en liefde vir hul land word geminag. En ’n ander land vry na hulle.
Dis soos ’n man wie sy vrou afskeep. Sy sal hom los vir iemand wat haar soos ’n vrou laat voel.
As die Boere eers hier aankom en sien hoe mense hulle waardeer, raak hulle dolverlief op die nuwe land.
Dit is daarom dat die kans dat mense uit plekke soos Australië sal terug-migreer omtrent nul is.
Die les vir beleidmakers is dat dit moontlik is om die emigrasie te vertraag. Vergeet om dié wat hier is, terug te kry.
Nee, probeer eerder dié wat nog daar is, daar te hou. Gee hulle hoop.
’n Tuiste. Waardering.
Vertrap van Afrikaans
Ek was een keer saam met prof. Pieter de Lange toe hy voor die ontbanning aan senior ANC-ouens gesê het: “Don’t touch Afrikaans. If you touch it, Afrikaners will lose their fear of English and leave (like the English have done).”
Nodeloos om te sê, hulle het die wenk geïgnoreer. En die gevolg is duidelik. Afrikaners is nie meer bang vir Engels nie. Hulle kom hier aan op Vrydag en begin werk op Maandag. Hulle is nie skaam vir hul aksent nie.
Hulle praat Afrikaans by die huis, maar leer en werk in Engels.
Net soos in Suid-Afrika.
Nou wil hulle oorleef
Wat is ’n mens sonder ’n droom? Wit mense beleef dit dat hul droom oor die toekoms, oor hul bevordering, oor hul kinders se geleenthede gesteel is.
Natuurlik kan ’n mens al hoe meer wintie word oor die ghrênd motor en die vakansiehuis, maar dit is nie die drome wat ’n mens nodig het nie.
Jy wil ook nie gatkruip vir jou droom nie. Jy wil nie ’n ou omkoop vir jou droom nie.
Jy wil nie vir iemand comrade sê of saamlag as hy stupid grappe maak of niks sê oor sy reuse-foute omdat jy politiek korrek wil wees nie.
Mense wil weet jy kan terugsit en beplan vir jou toekoms. Jy wil weet as jou kind hard werk, kan hy bo uitkom. Maar baie het ophou met droom.
Nou wil hulle net oorleef.
Suid-Afrika is vir baie ’n droombreker.
Breinkrag in Perth
Die Suid-Afrikaanse breinkrag wat net in Perth vergader is, is ongelooflik.
Hier is genoeg SA ingenieurs om ’n land te bou.
Genoeg onderwysers om honderde skole te bedien. Genoeg dokters om 1 Militêre Hospitaal weer aan die gang te kry. Genoeg verpleegsters om talle klinieke te laat oopmaak. Nie een wou hier wees nie. Maar almal se selfverwesenliking word hier gevul. Hulle kry erkenning. Hulle word bevorder.
Hulle oorleef. Hulle groei. Hulle het veiligheid.
Rugby is nuwe patriotisme
’n Mens wil lief wees vir jou land.
’n Land is meer as net ’n blyplek. Hulle noem dit patriotisme.
Wit mense se patriotisme is weggevat omdat hulle nie deel kan wees aan die nuwe land nie. Hul vakansiedae word geminag. Hul taal is terug in die kombuis. Hulle ken nie die name van hul ministers nie. Hulle weet nie wat die naam van hul stad is nie. Hul vrese word afgemaak as rassisme. Hul kritiek word gesien as bitterheid. Hulle word skaam gemaak vir hul geskiedenis.
Hulle het besoekers aan Afrika geword.
Daarom dat hulle amper pervers is as dit by rugby kom. Dit is die nuwe patriotisme.
Ek het ’n rugbytrui waarvan die helfte ’n Springbok-trui en ’n helfte die Wallaby-trui is. Op die Subiaco-stadion in Perth lag die ouens en sê: “Mate, you got your bets hedged.”
Op Loftus sê ’n ou aan my “trek uit daai f***** trui of ek donner jou”.
Globalisering
Die hele wêreld is aan die trek. Dit is anders vandag as twee dekades gelede. Daar is iets heeltemal normaal aan migreer.
Wat egter vreemd is van die emigreerproses uit Suid-Afrika, is vier dinge:
- Wit mense verlaat nie Suid-Afrika tydelik nie. Hulle gaan om nie terug te kom nie
- Dié wat emigreer, verkoop als. Geen bate bly oor waarna hulle kan terugkom nie. Dit is disinvestering op ’n ongekende skaal.
- Die aantal wat Suid-Afrika verlaat is proporsioneel baie hoog. Om ’n kwart van die wit bevolking in 15 jaar aan emigrasie af te staan, sal enige Westerse land op sy knieë dwing.
- Die neiging is dat gesinne en families die land verlaat.
Haat en liefde
Daar is een ding wat Suid-Afrika uniek maak en dit is die liefde/haat-verhouding tussen hulle wat bly en hulle wat gly.
Daar is geen ander land waar die media so behep is met die emigrasie-debat nie. Hetsy of dit is in die briewekolom van Beeld of treurige stories in Sarie van mense wat die Afrika-sonsondergang mis of mense wat biltong eet in Sydney met die sout van hul trane daarop.
In Nieu-Seeland, Brittanje, Italië, noem maar op, is emigreer geen kwessie nie. Niemand praat daaroor nie.
Net in Suid-Afrika is daar daai haat, woede, nyd, maar tog jaloesie en verlange. Ek weet nie wat dit is nie. Maar een ding weet ek, dit is weird!
Baie ander lande se “ekspats” word ’n grondslag vir ekonomiese aktiwiteit tussen die ou-land en die nuwe-land.
Wanneer dit by Suid-Afrika kom word daar geen voordeel geput uit die duisende Suid-Afrikaners hier nie – dis nou behalwe vir ’n paar Afrikaanse CD’s en rooibostee. Dit is asof die emigrante afgeskryf word.
Waar is die leiers?
As daar een ding is wat vir my bo alles moedeloos vir die toekoms maak, is dit die afwesigheid van die nuwe-geslag-leiers. Die ou leiers veg met die verlede en probeer verduidelik dat hulle nie oorgegee het nie.
Die nuwe leiers drink bier in hul agterplaas en probeer ’n klein teiken wees sodat hulle nie hul werk of kontrak in gevaar stel nie.
Tim du Plessis kan Beeld gebruik vir kritiek, maar daar is nie die minste teken van die soort debat wat daar in die 1980’s oor apartheid was nie. Almal is stil. Almal lê laag.
Leierskap onder wit mense en veral Afrikaanses is dunner as papier.
Daar is geen generaal nie. Inteendeel, daar is nie eens ’n bleddie korporaal nie. Die troepe dwaal rond en elkeen gaan in sy eie rigting.
’n Paar jaar gelede was daar ongeveer 5 miljoen wit mense in Suid-Afrika – sowat 12% van die bevolking.
Nou is daar ongeveer 4 miljoen – sowat 9% van die bevolking. Daar sal vir lank ’n miljoen of twee wit mense in Suid-Afrika wees.
Ek dink die afname aan wit mense sal verskerp namate tyd verloop deurdat vier kragte sal kombineer: emigrasie, sterftes, lae geboorte-aanwas en lae immigrasie.
- De Villiers was ’n grondwetlike kenner in Suid-Afrika en is nou lid van die regbank in Wes-Australië. Hy woon in Perth.
http://www.beeld.com/Content/In-Diepte/1978/ea8aa7c0889b40e6972a5e85f935d6f4/21-01-2010-08-31/Julle_het_my_droom_gesteel
Wat se julle als?